|

AfriForum rol moue op in Govan Mbeki-distrik

AfriForum se Teks-tak (Trichardt, Evander, Kinross en Secunda) het op 14 en 15 Februarie 2020 die tweede fase van dié tak se slaggatprojek afgeskop deur slaggate in Secunda te herstel.

AfriForum-taklede, lede van die Secunda-gemeenskapspolisiëringsforum en ander gemeenskapslede het ingespring om die slaggate by die PDP Kruger-/Oliver Tambostraatverkeerslig en by die PDP Kuger-/Joe Slovostraatkruising te herstel. Altesaam 220 sakkies teer is reeds tydens die slaggatprojek gebruik.

“Ons wil die gemeenskap graag aanmoedig om by die projek betrokke te raak, ons by te staan en hulp te verleen waar hulle kan,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.

AfriForum se Bethal-tak het ook herstelwerk in Bethal gedoen en daar is aandag gegee aan die N17 en die Nestlè-brug. Die gras is ook gesny en die tak het verskeie skoonmaakprojekte aangepak.

Buffelstraat in dié dorp is in samewerking met Sektor 2 van Bethal se gemeenskapspolisiëringsforum aangepak. Dreineringslote is skoongemaak om te verhoed dat water die padoppervlak verder beskadig en die gras is gesny. In voorbereiding op die laaste fase is die slaggate met doleriet gevul.

Verder het die lede ook straatnaamblokke herstel en oorgeverf. Wes- en Van der Hydestraat is nou ook voltooi en die blokke is teruggeplaas.

“Die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit verwaarloos die inwoners van Bethal, maar ons van AfriForum rol moue op en herstel ons dorp met trots,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak.

Raak by AfriForum se Teks- of Bethal-tak betrokke: SMS “Teks” of “Bethal” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings