|

AfriForum ry 1 600 km in eerste week om agt departementshoofde strafregtelik aan te kla

AfriForum het vandeesweek as deel van sy nasionale veldtog, “Genoeg is Genoeg”, sowat 1 600 km oor vier provisies afgelê om agt departementshoofde aan te kla vir die wanbesteding van belastingbetalers se geld.

Die projek vorm deel van die burgerregte-organisasie se nuwe nasionale veldtogte-afdeling se eerste projek, wat op Maandag, 18 April afgeskop het. Met die “Genoeg is Genoeg”-veldtog is die wanbesteding van toegedeelde belastinggeld deur dié afdeling as ’n nasionale krisis geïdentifiseer nadat toepaslike wetgewing, die departementele jaarverslae en verslae van die Ouditeur-Generaal (OG) bestudeer is en regsmenings ingewin is.

As deel van die veldtog, is ’n strafregtelike klag vandag in Mahikeng ingedien teen dr. Andrew Thabo Lekalakala, hoof van die Noordwes se departement van gesondheid. Dít volg nadat die burgerregte-organisasie die departement se jaarverslag ontleed het. Die klag teen Lekalakala is gebaseer op beweerde finansiële wanbesteding ingevolge artikel 86(1) van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur, 1999.

Die jaarverslag van die provinsie se departement van gesondheid toon dat dié departement ongemagtigde uitgawes van R283 miljoen, en vrugtelose en verkwiste uitgawes van R20 miljoen in die 2014/2015-boekjaar aangegaan het.

“Ons hoop die Nasionale Vervolgingsgesag neem die klagtes ernstig op, dit is ʼn nasionale krisis wat dringend gepak moet word,” het Monique Taute, nasionale veldtogkoördineerder van AfriForum, gesê.

“Lekalakala is een van vele departementshoofde wat belastingbetalers in die steek gelaat het deur te versuim om sy verantwoordelikhede na te kom. Departementshoofde is beamptes wat daarvoor verantwoordelik is om onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde uitgawes te voorkom en om skuldige partye aanspreeklik te hou.”

Sy sê voorts dat dit van groot belang is dat belastingbetalers hierdie klagtes steun. “Dit is tyd dat belastingbetalers sê: “Genoeg is genoeg. Hulle moet begin om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag uit te oefen om te verseker dat die oortreders vervolg word.”

Henk Maree, AfriForum se nasionale woordvoerder, het gesê hulle is tevrede met die veldtog se vordering tot dusver. “Ons het reeds saaknommers vir van die klagtes wat ingedien is gekry. Ons val weer Maandag in die pad om klagtes teen departementshoofde in die Vrystaat, Oos-Kaap, Noord-Kaap en KwaZulu- Natal in te dien.”

AfriForum wil die publiek aanmoedig om die nodige druk op die Nasionale Vervolgingsgesag te plaas deur ’n SMS met hul naam na 45352 te stuur (R1) of die klagtes op AfriForum se webtuiste by www.afriforum.co.za te onderteken.

 

Soortgelyke plasings