|

AFRIFORUM SAL AANHOU OM DRUK OP LAMOLA EN DEPARTEMENT TE PLAAS IN BELANG VAN GEREGTIGHEID

Deur Alet Rademeyer

Die Departement van Justisie en Korrektiewe Dienste en sy minister, Ronald Lamola, het in verskeie sake en herhaaldelik geen ag geslaan op AfriForum se privaatvervolgingseenheid se versoeke om kommunikasie en inligting nie.

Die sake sluit in ’n aansoek van die Botswana-regering dat die Suid-Afrikaanse regering inligting aan Botswana verskaf rakende kwessies van bedrog en geldwassery waarby Bridgette Motsepe-Radebe, pres. Cyril Ramaphosa se skoonsuster, betrek word. Die tweede saak handel oor die uitlewering van Grace Mugabe, voormalige presidentsvrou van Zimbabwe, nadat ’n klag van aanranding teen haar aanhangig gemaak is. Die derde klag hou verband met die uitlewering van twee regeringsamptenare van Rwanda vir die moord van kol. Patrick Karegeya, voormalige intelligensiehoof van Rwanda.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag op ’n nuuskonferensie die vordering in die sake bespreek en gesê: “Dit is uiters verontrustend dat versoeke om inligting van die Departement van Justisie oor die vordering in die sake summier geïgnoreer word. Daar is geen leierskap of doeltreffende bestuur in die departement nie en dit wil voorkom of werksaamhede in die departement op grond van politieke direktiewe gedoen word.”

Dit is weens die gesloer en totale gebrek aan terugvoer in die sake dat die privaatvervolgingseenheid ’n mandamusaansoek in die Botswana-saak gebring het om die departement te dwing om wedersydse regshulp aan die Botswana-regering te fasiliteer. Die departement het nie die aansoek teengestaan nie en nie formele hofstukke betyds geliasseer nie. Gevolglik is dit op die ongeopponeerde hofrol geplaas vir 7 Julie 2021.

Adv. Stephen Tiroyakgosi, Botswana se direkteur van openbare vervolging en wat die Botswana-regering verteenwoordig, het via Skype bevestig dat hy nog geen inligting van die Suid-Afrikaanse Departement van Justisie gekry het nie en dat sekere aanklagte teen Wilhelmina Moswabi in Botswana teruggetrek moes word. “AfriForum het ons steun om met die mandamusaansoek voort te gaan. Die Suid-Afrikaanse regering móét vir ons sê of daar inligting is of nie.”

Nel het daarop gewys dat ondanks die stilswye aan die kant van die Departement van Justisie en die weiering om formele terugvoer aan die Botswana-regering te verskaf, die proses van informele kommunikasie van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voortduur. Dié kontak met die Botswana-regering is in hierdie omstandighede ongehoord en onreëlmatig.

Hy het ook daarop gewys dat inligting bekend geword het dat senior regeringsamptenare (die identiteit van die partye is aan die privaatvervolgingseenheid bekend) die banke oor hierdie aangeleentheid besoek het en dat hoewel daar pogings is om die Botswana-regering te oorreed om die aansoek terug te trek, die departement en die NVG in gebreke is om formeel terugvoer aan die Botswana-regering te verskaf. “Die optrede in die saak dui daarop dat nóg Lamola nóg sy departement respek vir die regstelsel het en dat daar eerder gefokus word om diegene met politieke verbintenisse te beskerm.”

Nel het verder uitgewys dat die departement gou gespring het om lasbriewe uit te reik vir die arrestasie van Shepherd en Mary Bushiri wat van bedrog en geldwassery aangekla word, asook reeds met die uitleweringsproses begin het. “Dít terwyl die proses vir die uitlewering van Mugabe en die vermeende moordenaars van Karegeya bly sloer.”

Ismael Gafaranga en Alex Sugira, die beskuldigdes in die moord op Karegeya is steeds nie uitgelewer nie, nadat die moord reeds in 2014 gepleeg is. Dieselfde geld vir die uitlewering van Mugabe vir die beweerde aanranding van Gabriella Engels in 2017. “Terwyl sekere ministers die Bushiri-egpaar se saak as ’n verleentheid vir die land beskou, is die hantering van hierdie sake ’n nóg groter verleentheid,” sê Nel.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die NVG, en in dié geval die Departement van Justisie, se geneigdheid om selektief te vervolg en/of die reëls ten aansien van uitlewering en wedersydse regshulp selektief toe te pas, het gelei tot die totstandkoming van AfriForum se privaatvervolgingseenheid. “Hoewel die eenheid oorval word met klagtes van onbeholpenheid en/of belangeloosheid aan die kant van die polisie en die NVG, is die versuim in die bogenoemde gevalle opsetlik en tekenend van ’n politieke motief.

“Almal is nie gelyk voor die reg nie en AfriForum sal nie skroom om ongelyke behandeling voor die reg na vore te bring nie. Ons mag nie toelaat dat die gesloer in die sake ons moedeloos maak nie. Ons moet aanhou veg teen onreg en in die belang van die hele land en die vasteland bly optree totdat geregtigheid seëvier.”

Soortgelyke plasings