|

AfriForum sal elke moontlike middel inspan om haatveldtog teen Afrikaanse skole en kinders te keer

In reaksie op die beplande Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys wat die afgelope week aan die portefeuljekomitee vir onderwys voorgelê is, het AfriForum verklaar dat dié wetsontwerp niks anders as deel van die ANC-regering se haatveldtog teen Afrikaanse kinders en skole is nie.

Die wetsontwerp wat ’n aanloop van meer as vyf jaar het, is in die verlede oorweldigend teengestaan met openbare reaksie en regsmenings daarteen. Desondanks maak dit nou weer ’n verskyning met kosmetiese veranderings wat daaraan aangebring is.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die rede hiervoor duidelik – die departement vir Basiese Onderrig wil steeds meer mag in eie hande sentreer, en dan spesifiek die Afrikaanse gemeenskap van hulle reg tot onderrig in Afrikaans ontneem.

“Kinders se belange en toekoms word weer eens ’n speelbal in die hande van die magsbehepte staat. AfriForum sal alle middele tot ons beskikking aanwend om te sorg dat die toekoms van Afrikaans, Afrikaanse skole en Afrikaanse kinders teen hierdie haatgedrewe aanslag beskerm word,” het sy bygevoeg.

Soortgelyke plasings