AfriForum sal magsugtige Mkhize se regulasies teenstaan

AfriForum sal dr. Zweli Mkhize, die minister van Gesondheid, se voorgestelde regulasies vir die toesig en beheer van aanmeldbare mediese toestande beveg. Dié voorgestelde regulasies sal verreikende magte aan die minister toeken wanneer die nasionale ramptoestand uiteindelik verstryk.

Indien die kabinet dit goedkeur, sal die gewysigde regulasies aan Mkhize die mag gee om in die toekoms dieselfde soort streng beperkings toe te pas as wat die regering ingevolge die Wet op Rampbestuur in reaksie op die COVID-19-pandemie ingestel het, maar vir enige siekte wat as ’n groot bedreiging vir die publiek beskou word.

Van dié magte sluit in dat Mkhize sowel reis tussen provinsies of distrikte as openbare samekomste mag verbied, ’n aandklokreël mag instel, onderwysinstellings mag sluit en mense onder verpligte kwarantyn mag plaas deur bloot ’n kennisgewing in die Staatskoerant te publiseer.

“Die rampspoedige wyse waarop die regering die COVID-19-pandemie hanteer het, dien as genoegsame bewys dat die staat nie soveel mag oor burgers behoort te hê nie. Nóg minder moet hierdie mag in een minister gesetel word. AfriForum sal die regulasies teenstaan as dit wel aanvaar word. Mense kan en moet verantwoordelikheid vir hul eie gesondheid neem. Ons kan nie in die toekoms enige verdere irrasionele inperkingsregulasies deur die regering bekostig nie,” sê Natasha Venter, bestuurder van Veldtogte by AfriForum.

Soortgelyke plasings