|

AfriForum sal nie toelaat dat beheerliggame in slag bly

skole (1)

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

“Ons kan nie toelaat dat beheerliggame se invloed in skole onderdruk word nie.  Ouers se insae en ondersteuning is ongelooflik belangrik vir skole.”

Só het Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, gereageer nadat dit onder die burgerregte-organisasie se aandag gekom het dat die departement van basiese onderwys tans werk aan ’n wysigingswetsontwerp op basiese onderrigwette.

Volgens Bloem is AfriForum bekommerd oor die manier waarop die regering skole wil inperk.

“Hierdie wysigingswetsontwerp kan moontlik ouerbeheerliggame ontneem van baie belangrike besluite waaroor hulle op die oomblik seggenskap het, naamlik ’n skool se toelatings- en taalbeleid en beheerliggaam-aanstellings.”

Die departement sal dus ook kan aandring dat ʼn skool meer as een onderrigtaal het, meen Bloem.

“AfriForum sal waaksaam wees tot die konsepwetgewing gepubliseer word, ’n regsmening kry en alles moontlik doen om te verseker dat beheerliggame en ouergemeenskappe se deelname en besluitnemingsmagte nie afgewater word nie.”

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), het aan Forum Nuus gesê dat dié wysigingswetsontwerp ’n manier is vir die regering om meer mag te hê oor die land se skole.

“Hierdie is ’n poging om die regstrukture van openbare skole aan te tas, deur mag te ontneem van beheerliggame en skool-gemeenskappe. Die regering beweeg terug na die apartheidsmodel van onderrig en wil openbare skole dus terug verander na staatsskole toe.”

Hy sê voorts dat skool-gemeenskappe nie nou té bekommerd moet te wees nie. “Daar moet nog baie water in die see loop voordat dit as konsepwetsontwerp gepubliseer sal word.”

Hy meen egter dat die dokument eers deur die nasionale kwalifikasie-raamwerk asook beheerliggame goedgekeur moet word, waarna dit deur ’n proses van openbare deelname en konsultasie moet gaan. Daarna moet die dokument ook deur die parlement en kabinet goedgekeur word, voordat dit as konsepwetsontwerp gepubliseer kan word.

Hy beskryf dié wysigingwetsontwerp as deel van Panyaza Lesufi, Gauteng LUR vir onderwys, se “wenslys” vir skole, veral teenoor skole se toelatingsbeleide. Hy verwys egter na Oktober verlede jaar toe die appèlhof ten gunste van Lesufi beslis het in ’n geding teen Fedsas.

Die beslissing het aan Lesufi magtiging gee om te besluit of ’n skool vol is of nie.

Deacon het voorts gesê dat skool-gemeenskappe waaksaam moet wees as die geleentheid vir openbare voorstelle en insette voordoen, asook om vroegtydig kinders by skole in te skryf.

“Elke provinsie bepaal self die sperdatum vir inskrywings, maar Gauteng is een van die provinsies wat die meeste leerlinge moet akkommodeer. Daarom is die sperdatums vir 2017 inskrywings vroëer gemaak om toelatingsprobleme te voorkom.”

Fedsas vergader later vandeesmaand met die departement om die dokument, wat tans intern sirkuleer, te bespreek.

“Ons is deel van ’n tegniese taakspan en sal ingesluit wees by die debat, wysiging en bespreking van die dokument. Ons sal ons vennote en skoolgemeenskappe van verwikkelinge op hoogte hou.”

 

 

Soortgelyke plasings