|

AFRIFORUM SAL NUWE SEB-KODES VIR DIE REGSEKTOR BEVEG

AfriForum het vandag kommentaar ingedien oor die voorgestelde veranderinge aan die regspraktisynsraad se breëgebaseerde swartekonomiesebemagtiging- (B-BSEB) regssektorkode. Volgens die organisasie is sy regspan ook gereed om die kodes in die hof te beveg indien dit nodig sou wees, omdat die voorgestelde veranderinge ’n drastiese impak op regspraktisyns het.

Volgens die burgerregteorganisasie raak dit reeds toenemend moeiliker vir wit regspraktisyns om mee te ding omdat verskeie groot rolspelers in die bedryf, soos die padongelukkefonds, reeds verkies om swart regsverteenwoordigers aan te stel. AfriForum meen daarom dat die nuwe kodes rassisties en moreel onregverdigbaar is.

“Padongelukkefonds-sake maak sowat 80% van die sake op die hofrol in die Gautengse hooggeregshowe uit. Dit is maar net een voorbeeld van waar swart regspraktisyns reeds bevoordeel word. Dit verminder reeds wit regspraktisyns se kanse aansienlik om kliënte te kry,” sê Ernst Roets, AfriForum se hoof van Beleid en Aksie.

Boonop is die kodes ook teenstrydig met dele van die Grondwet, soos artikel 22, wat handel oor vrye handel en die keuse van beroep. Die kodes sal tot gevolg hê dat regsfirmas hul inkomste moet bekend maak. Aangesien baie regspraktisyns onder hul eie name sake doen, beteken dit dus dat hulle hul persoonlike geldsake sal moet bekend maak, wat strydig is met artikel 14 van die Grondwet.

Soortgelyke plasings