AfriForum sál optree as NERSA ’n irrasionele tarief goedkeur
Die burgerregteorganisasie AfriForum sê hy sal deelneem aan die openbare raadplegingsproses om die implementering van ’n irrasionele kragtariefverhoging te verhoed en is ook gereed om regstappe te doen indien die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) sou besluit om Eskom se aansoek om ’n buitensporige tariefverhoging in te stel. Volgens berigte versoek Eskom ’n tariefverhoging van 36%.
NERSA het gister aangedui dat hy Eskom se aansoek vir tariefverhogings vir die 2025/2026-, 2026/2027- en 2027/2028-boekjare ontvang het. Voorgeskrewe prosesse, insluitend die bepaling of daar aan al die regulatoriese vereistes voldoen is sowel as openbare raadpleging waartydens die publiek ook hul kommer of ondersteuning kan uitspreek, sal nou eers gevolg moet word.
Die energiereguleerder het al telkens beloof om deeglike omsigtigheidstoetse teenoor Eskom te doen om te bepaal watter gedeeltes van die kragreus se aansoek uitgesluit kan word of aan die verbruiker oorgedra mag word. AfriForum maan NERSA om aan hierdie beloftes gestand te doen ter wille van die eindverbruiker.
“AfriForum neem nou al die afgelope agt jaar deel aan hierdie tarieweproses en ons sal voortgaan om aan hierdie prosesse deel te neem om te verseker dat die energiesektor aan die wetgewende raamwerk voldoen,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum. “Ons sal nie toelaat dat Eskom of NERSA kragverbruikers vertrap met onbillike tariefverhogings nie en sal deurentyd deelneem aan die proses om toe te sien dat daar in die belang van verbruikers opgetree word.”
AfriForum het in die verlede bewys dat hy nie onbillike kragtariefverhogings, soos dié wat onlangs deur talle munisipaliteite geïmplementeer is nadat dit sodanig deur NERSA goedgekeur is, sal duld nie.