AfriForum sal verpligte inenting teenstaan indien dit deur die regering ingestel word

In ’n brief aan president Cyril Ramaphosa het die burgerregteorganisasie vandag gesê dat verpligte inentings ’n onregverdige skending van persoonlike vryhede is en dat die organisasie enige verpligte inentingsmandaat wat deur die regering ingestel word, sal teenstaan. Dit volg ná die president op 28 November aangekondig het dat die regering ’n taakspan gestig het wat breë konsultasies sal onderneem om inentings verpligtend te maak vir spesifieke aktiwiteite en plekke. 

AfriForum het ook in die brief gesê dat hulle ten gunste is van vrywillige inentings maar teen enige verpligte inentings is aangesien dit inbreuk maak op mense se regte. Volgens AfriForum is daar internasionaal voorbeelde wat wys dat wanneer inentings verpligtend gemaak word, dit misluk en juis die teenoorgestelde bereik as wat bedoel is as gevolg van geharde houdings en terugslag wat dit skep.

In die brief beklemtoon AfriForum hoe die president die land in Februarie 2021 toegespreek het en die volgende belowe het: “I want to be clear, nobody will be forced to take this vaccine, I want to repeat, nobody will be forced to take this vaccine. Nobody will be forbidden from traveling to wherever they want to travel to, including from enrolling at school, or from taking part in any public activity if they have not been vaccinated.” Nou beplan sy administrasie om presies dit te doen. Dit is uiters kommerwekkend dat die president nou sy besluit omkeer.

“AfriForum sal die nodige stappe doen om die regering teen te staan indien hulle inenting verpligtend wil maak, veral gebaseer op die beginsel van vryheid van keuse en jou grondwetlike reg op liggaamlike outonomie,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

“As ons staatsdwang ondersteun met kwessies waarmee ons persoonlik op hierdie stadium saamstem, dan maak ons die deur oop vir die staat om in die toekoms iets op ons af te dwing waarmee ons in beginsel ’n probleem het. Staatsdwang bly gevaarlik, ongeag wat die onderwerp is en ons moenie die staat toestemming gee om dit in ’n verskeidenheid van situasies te gebruik nie. Verpligte inentingsmandate is onregverdig in ’n vrye samelewing,” sluit Roets af.

Soortgelyke plasings