|

AfriForum sal waghond wees tydens verkiesing

IEC

AfriForum as burgerregte-organisasie moedig Suid-Afrikaners aan om deel te neem aan die 2016 munisipale verkiesing wat op 3 Augustus gehou word.

Marcus Pawson, hoof van plaaslike regering by AfriForum, sê die organisasie staan buite die partypolitiek, maar as  ʼn burgerlike instelling met ʼn waghondfunksie sal hy kyk dat die burgerlike regte van sy lede en die breë publiek tydens die komende munisipale verkiesing bevorder word. Meer as honderd AfriForum-lede en verteenwoordigers sal op stemdag as waarnemers optree.

“Dit is vir AfriForum belangrik dat die verkiesing vry, veilig en regverdig sal geskied. Vanjaar se verkiesing gaan die regerende party se moeilikste wees en die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se vermoë gaan getoets word om ʼn deursigtige verkiesing te verseker,” meen Pawson.

Pawson het gesê die organisasie gaan soveel mense en van sy lede moontlik mobiliseer om as waarnemers op te tree om op grondvlak toe te sien dat die verkiesing glad verloop. Enige voorvalle van ongerymdhede sal by AfriForum aangemeld kan word by verkiesing@afriforum.co.za. ’n Spesiale SMS-lyn is ook vir die doel geskep en boodskappe kan na 45344 (R1) gestuur word.

Lede van die uitvoerende bestuur van AfriForum sal die verkiesing ook monitor en ’n verslag oor hoe vry en regverdig dit verloop het, sal daarna vrygestel word.

Uiteenlopende voorspellings oor die vertoning van die ANC en opposisiepartye in die komende verkiesing in die verskeie metrorade is die afgelope maande deur ontleders en navorsingsinstansies gemaak.

Van die voorspellings dui daarop dat die ANC ongetwyfeld ’n opdraande stryd kan verwag in die metrorade in Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai.

Sommige ontleders meen dit is baie moeilik om akkurate voorspellings te maak in die lig van soveel stemgeregtigdes wat nie gaan stem nie en voormalige ANC-ondersteuners wat onseker is oor wie hulle voor gaan stem. ’n Ontleding van die jongste registrasiesyfers en stempatrone van 2011 en 2014 dui daarop dat die ANC se steun tot onder 50% in Johannesburg kan val.

Die OVK het onlangs interessante statistieke rondom die verkiesing bekend gemaak:

  • 200 politieke partye gaan deelneem
  • 80 miljoen stembriewe is gedruk
  • 61 014 kandidate gaan om stemme meeding
  • 60% van kandidate is mans en 40% vroue
  • Die stembusse sal van 07:00 – 19:00 oop wees
  • Daar is 26,3 miljoen kiesers in Suid-Afrika
  • Die meeste kiesers (6,2 miljoen) is in Gauteng

 

 

 

Soortgelyke plasings