|

AFRIFORUM SE ALBERTINIA-PLAASWAG DEURLOOP OPLEIDING

AfriForum se Albertinia-plaaswag het op 19 Mei 2021 opleiding in regsaspekte deurloop. Dit vorm deel van AfriForum se program om gemeenskappe te bemagtig om met veiligheidsprojekte binne die raamwerk van die wet op te tree.

Regsaspekteopleiding maak deel uit van 16 gemeenskapveiligheidsmodules wat deur AfriForum ontwikkel is en as belangrik beskou word om buurtwaglede te bemagtig om enige bedreiging wat in hul gemeenskappe mag ontstaan met selfvertroue en kundigheid aan te spreek. Die opleiding is aangebied deur Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die suidstreek.

Volgens Greyling is dit uiters belangrik dat buurt- en plaaswaglede vertroud is met die wet en verstaan wat hul rol, regte en beperkings is. Sodoende kan hulle binne die raamwerk van die wet optree wanneer hulle hul gemeenskappe beveilig.

“Die veiligheidsuitdagings wat ons plaasgemeenskappe deesdae in die gesig staar, vereis dat boere toegerus moet wees met die nodige kennis om met selfvertroue op te tree en goeie besluitneming aan die dag te kan lê. Hierdie opleiding is saamgestel juis om dít te bereik,” sê David Olivier, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir die suidstreek.

Raak vandag by AfriForum se veiligheidstrukture betrokke: SMS “Buurtwag” na 45265 (R1).

Soortgelyke plasings