AfriForum se Alberton-tak plaas druk op Ekurhuleni Metro oor rioolprobleem


Die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit het op 19 September 2017 rioolpype in Pelican- en Steenbokstraat in Alberton begin vervang nadat die plaaslike AfriForum-tak vir sewe maande lank druk op die munisipaliteit uitgeoefen het.
Dié tak het sedert Februarie vanjaar verskeie klagtes van die publiek ontvang rakende die ondraaglike stank in Alberton. Hoewel dié kwessie al telkemale by die munisipaliteit aangemeld is, is daar egter met die herstelproses gesloer.
Volgens Ricky Mans, omgewingsakekomiteelid van AfriForum se Alberton-tak, is hierdie spesifieke rioolpype ook die oorsaak van verskeie ander rioolprobleme in die omliggende gebiede. Die swak instandhouding daarvan veroorsaak blokkasies in ander gebiede en lei daartoe dat die riool nie vrylik kan vloei nie.

“Die vervanging gaan ongeveer vier dae neem en ons sal die vordering moniteer om te verseker dat die munisipaliteit sy verpligtinge nakom,” sê Willie van Wyk, voorsitter van AfriForum se Alberton-tak.

AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap van Alberton om soortgelyke probleme aan die munisipaliteit te rapporteer deur 011 999 2463 te skakel en op ’n verwysingsnommer aan te dring. Indien daar nie binne ’n redelike tydperk opgetree word nie, kan die probleem na afriforumalb@gmail.com verwys word.

Soortgelyke plasings