AfriForum se Aliwal-Noord-tak vergader met nuwe munisipale bestuurder


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Aliwal-Noord-tak het bevestiging ontvang van me. Fezeka Ntlemeza, die nuwe munisipale bestuurder van die Walter Sisulu Plaaslike Munisipaliteit, om vroeg in Februarie met hulle te vergader.

“Gereelde ontmoetings met die plaaslike munisipale bestuur stel ons as tak in staat om die gemeenskap se klagtes onder die munisipaliteit se aandag te bring en die oplossings aan te hoor wat beplan word,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

Me. Ntlemeza het op 16 Januarie 2019 bevestig dat sy en lede van die munisipaliteit op 6 Februarie 2019 om 09:00 met AfriForum se Aliwal-Noord-takbestuur by Aliwal-Noord se munisipale kantore sal vergader.

“Lede van die gemeenskap met klagtes wat hulle graag onder ons aandag wil bring om tydens dié vergadering te bespreek, kan my gerus kontak. Saam kan ons die gemeenskap ophef en weer hoop skep,” sluit Smit af.

Soortgelyke plasings