|

AfriForum se #AnkerdorpPadskou skop in Bethlehem af

AfriForum het sy #AnkerdorpPadskou op 4 November 2019 in Bethlehem begin om die burgerregteorganisasie se teenwoordigheid in dié dorp te verhoog en saam met die gemeenskap hoop te skep.

AfriForum se Bethlehem-tak het tydens die eerste week van die veldtog straattekens, spoedwalle, stoptekens en voetoorgange by Primêre Skool Jordania, Hoërskool Witteberg, Hoërskool Voortrekker, Laerskool Truida Kestell en Maluti Hooglandskool geverf. Die doel van die aksie was om padveiligheid by die skole te verbeter en meer sigbaarheid te skep.

“Die tak beplan nog verskeie aksies vir die res van die maand. Ons gaan by die Sonskyn-dienssentrum en museum instandhoudingswerk doen, asook nog bome plant. Die program vir die ankerdorpprojek is propvol en ons wil graag hê die gemeenskap moet meer by die aksies betrokke raak,” sê Jp Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum se #AnkerdorpPadskou bou op die feit (gestaaf deur Solidariteit se navorsing) dat Afrikaners na 30 dorpe in Suid-Afrika migreer, waar basiese dienslewering en behoeftes – soos gesondheidsdienste, veiligheid, versorging van bejaardes, skoon water en instandhouding van sanitasie – binne bereik is. AfriForum het dus besluit om dié gemeenskappe te wys hoe ons as burgerregtewaghond saam met die groter Solidariteit Beweging selfbeskikking aanmoedig en self moue oprol om ons dorpe te verbeter.

AfriForum moedig gemeenskapslede aan om by die #AnkerdorpPadskou betrokke te raak. Vir meer inligting, besoek gerus dié inisiatief se webtuiste by www.ankerdorp.co.za.

Soortgelyke plasings