|

AfriForum se Belfast-tak rig twee noodwaterpunte op

Die AfriForum-tak in Belfast is aan die woeker en het reeds ’n tweede volhoubare projek vir die jaar van stapel gestuur. Twee noodwaterpunte is die afgelope maand in die dorp opgerig, wat inwoners die geleentheid gee om toegang te hê tot water indien daar watertekorte in die dorp is. Dié waterpunte is by Kerkstraat 2 en Dahliastraat 33 opgerig.

Belfast ervaar gereeld watertekorte weens swak munisipale bestuur en infrastruktuur. Die Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit laat die gemeenskap gereeld in die steek wat watervoorsiening betref weens waterpype en pompe wat breek en die swak bestuur van die watertoevoernetwerk.

Die doel van die waterpunte is om water aan die inwoners te verskaf sodat hulle ten minste hulle basiese bedrywighede kan voortsit indien daar watertekorte is. Water en sanitasie is ’n grondwetlike reg en al hoe meer munisipaliteite is besig om hulle pligte in die verband te versuim. Dit is juis om hierdie rede dat AfriForum besluit het om landwyd noodwaterpunte op te rig.

“Dit is vir ons as tak noodsaaklik dat mense in ons gemeenskap toegang tot basiese dienste en hulpbronne soos water het. Gereelde wateronderbrekings het ons eenvoudig gedwing om hierdie punte op te rig sodat ons die gemeenskap kan bystaan in tye van nood,” sê David Spohr, voorsitter van AfriForum se Belfast-tak.

“Dit is eenvoudig onaanvaarbaar dat die munisipaliteit nie hulle basiese pligte soos watervoorsiening nakom nie en daarom neem ons stappe om ons gemeenskappe te ondersteun en te help. Ons bedank graag die lede van ons Belfast-tak wat hierdie volhoubare projek so doeltreffend in die gemeenskap geïmplementeer get,” se Arlo van Heerden AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum se Belfast-tak nooi lede van die publiek uit om deel te word van die tak om sodoende ander projekte suksesvol aan te pak: SMS “Belfast” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings