|

AfriForum se Benoni-buurtwag beveilig gemeenskap

Die AfriForum-buurtwag in Benoni het in Mei verskeie suksesse behaal en deurlopend patrollies gery om die gemeenskap te beveilig. Die buurtwag het 398 ure op die pad spandeer en sowat 803 km tydens patrollies afgelê. Die buurtwag het 28 insidente hanteer en hulp verleen by insidente van huisbraak, voertuig diefstal, betreding en skade aan eiendom, benewens die feit dat hulle gereeld patrollies ry om die gemeenskap veilig te hou.

“Daar is goeie samewerking tussen al die rolspelers en inligting word uitgeruil wat take baie vergemaklik. Ons doen egter ’n beroep op die publiek om sake by die SAPD aan te meld, sodat geregtigheid kan geskied en dat akkurate statistiek saamgestel kan word. Dit help die buurtwag ook om brandpunte te identifiseer om sodoende meer patrollies in daardie gebiede te ry,” sê Jacques Laubscher, leier van AfriForum se Benoni-buurtwag.

“Hierdie suksesse is weer eens ’n bewys dat AfriForum se spesialisopleiding, toerusting, plaaslike- en nasionale radionetwerke en samewerking met ander rolspelers uiters suksesvol is. Die feit dat gemeenskapslede inligting direk aan die buurtwag kan kommunikeer, maak vinnige optrede moontlik. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood te help,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Word vandag nog deel van AfriForum se Benoni-buurtwag: SMS “Benoni” na 45340 (R1) of kontak vir Jacques Laubscher by 079 499 4860.

Soortgelyke plasings