|

AfriForum se Benoni-tak plant bome by Sinethemba Hope House

Die AfriForum-tak in Benoni het op 24 September 2020 tyd by Sinethemba Hope House (’n plaaslike kinderhuis) deurgebring waartydens taklede die kinders gehelp het om vyf vrugtebome wat aan die kinderhuis geskenk is te plant.

Ná ’n sonnige oggend van tuinmaak en kinders touwys maak oor hoe om die bome korrek te plant, is die kinders met allerhande lekkernye bederf.

Die kinderhuis huisves 24 kinders en AfriForum is reeds regdeur die COVID-19-inperking aktief by die kinderhuis betrokke met die voorsiening van voedsel, asook ander noodsaaklike benodighede. Die kinderhuis is ook tydens die inperking ontsmet om die kinders se veiligheid te verseker.

“Wat ’n voorreg is dit nie om die kinders te sien glimlag en pret te hê nie. Ons is al ’n geruime tyd by hierdie kinderhuis betrokke en sal voortgaan om hulle te ondersteun waar nodig,” sê Dean Ambrose, projekbestuurder by AfriForum se Benoni-tak.

AfriForum wil graag die volgende ondernemings bedank vir hul ondersteuning tydens die boomplantprojek by die kinderhuis op Erfenisdag: Pies N More vir die pakkies lekkers en Flora High Nursery vir die vrugtebome en kompos.

Stuur ’n e-pos na afriforum.benoni@gmail.com indien jy by hierdie AfriForum-tak wil aansluit.

Soortgelyke plasings