|

AfriForum se Benoni-tak rol moue op om dorp te verbeter

Die AfriForum-tak in Benoni het op 14 Mei slaggate gevul en ’n skoonmaakprojek aangepak, nadat ’n aantal klagtes ontvang is van slaggate wat die paaie onveilig maak en van publieke ruimtes wat vuil is. Altesaam 25 slaggate is in Woburnrylaan, Bunyanstraat, Swanstraat en Russellstraat gevul. AfriForum se span het ook in Bunyanstraat die gras op die sypaadjie gesny, die stormwaterdrein skoongemaak, rommel opgetel en ’n onwettige kennisgewingbord verwyder.

“Hierdie projeekte is ’n uitstekende voorbeeld van die sukses wat behaal kan word indien ’n gemeenskap saamstaan en weier om swak dienslewering te aanvaar. Deur harde werk kan ons die toekoms van Benoni positief beïnvloed. Met hierdie projek stuur ons ’n boodskap dat ons verantwoordelikheid neem vir ons eie areas. Ons sal self onderhoud en herstelwerk doen as die metro dit nie doen nie,” sê Achilles Mouyis, voorsitter van AfriForum se Benoni-tak.

“Met hierdie projek wil AfriForum wys dat ons nie sal huiwer om ons gemeenskap in moeilike tye te ondersteun nie. ’n Groot dank aan ons AfriForum-lede in Benoni wat nie skroom om hul moue op te rol en aan die werk te spring nie. Dit is opbouend om te sien dat mense eienaarskap van hul gemeenskappe neem en dat hulle besef dat hulle nie op die metro kan staatmaak nie. Baie dankie ook aan ons AfriForum-lede wie se finansiële bydraes hierdie projekte moontlik maak,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Word vandag nog deel van AfriForum se Benoni-tak: SMS “Benoni” na 45340 (R1) of stuur ’n e-pos na benoni@afriforumtak.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings