|

AfriForum se Benoni-tak werk saam om omgewing te verbeter

Die AfriForum-tak in Benoni het op 28 en 29 Januarie 2022 behoorlik hul moue opgerol om die algehele beeld van die omgewing te verbeter. Die tak het vyf projekte afgehandel en het onder meer slaggate in Uysweg herstel, verskeie groenstroke gesny en netjies gemaak, die Lanyon-brug skoongemaak en onwettige borde verwyder.

Ongeveer 60 sakke teer is gebruik om die slaggate in Uysweg te vul. Die groenstroke wat langs die paaie gesny is, was ’n seeroog vir motoriste en het ook baie maklike wegkruipplek vir misdadigers gebied. Hierdie projekte wys dat die gemeenskap proaktief optree om nie net die dorp in ’n beter toestand te kry nie, maar ook om die kriminele elemente te verminder.

“Hierdie projekte is deur lede van die gemeenskap van stapel gestuur. AfriForum is trots om saam met sulke merkwaardige gemeenskapslede te werk wat self bou aan die toekoms in hul gemeenskap,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Ungerer moedig die gemeenskap aan om by AfriForum se Benoni-tak betrokke te raak om deel van die verskil te word. Stuur ’n e-pos na Benoni@afriforumtak.co.za om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings