AfriForum se Bethal- en TEKS-tak verwyder vullis


AfriForum se Bethal- en TEKS-tak was die afgelope week genoodsaak om vullis in Bethal en Secunda te laat verwyder nadat die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit nie vullisverwyderingsdienste in dié dorpe verskaf het nie.
Vullisverwyderingsdienste is in beide dorpe gestaak omdat dié munisipaliteit versuim het om kontrakteurs te betaal. Die vullisterrein in Bethal is ook weens die munisipale wanbetaling gesluit. AfriForum het derhalwe kontrakteurs aangestel om meer as 10 trokvragte vullis in Uitbreiding 22 van Secunda te verwyder. Stukkende sakke en vullis is ook opgeruim.
In Bethal het AfriForum ook ’n plaaslike kontrakteur aangestel om 13 vragte vullis in die sentrale sakedistrik en sommige woongebiede te verwyder. NJP Vervoer het ’n vragmotor en bestuurder vir hierdie aksie geborg. Die DA het intussen weer die vullisterrein geopen.

“Ons kan nie toelaat dat munisipale wanbestuur daartoe lei dat ons dorpe agteruitgaan nie,” sê Nico Venter, voorsitter van AfriForum se TEKS-tak.
“Hierdie voorval is weereens ’n bewys dat inwoners self dienste moet verrig waar dit ontbreek,” sê Ingrid Human, omgewingsakevoorsitter van Bethal se AfriForum-tak.
“Inwoners word al meer weens swak dienslewering in die steek gelaat en dit noodsaak burgerregte-organisasies soos AfriForum om in te gryp,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in Mpumalanga.

Sluit aan by jou plaaslike AfriForum-tak deur “Teks” of “Bethal” na 45350 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings