AfriForum se Bethal-tak maak ’n verskil in gemeenskap


Die AfriForum-tak in Bethal het weer eens bewys dat hulle nie swak dienslewering sal aanvaar nie. Gedurende April 2019 is verskeie projekte van stapel gestuur om die dorp op te hef. Dié projekte is almal met behulp van die gemeenskap aangepak met die doel om Bethal weer tot die pragdorp wat dit eens was te herstel.

Die tak het 14 nuwe asblikke aangeskaf en op plekke in die dorp aangebring waar rommelstrooi ’n probleem is.
Bethal se slaggatprojek is ook voortgesit en het in Aprilmaand spesifiek op Vermooten-, Kleijnhans- en Malherbestraat gefokus. Meer as 500 sakke teer is reeds hierdie jaar gebruik om slaggate op te vul.
Verder het die tak gras gesny en gedeeltes oorkant die Nestlé-gebou, die polisiestasie en langs die N17 ontbos. “Die lang gras is nie net ’n groot veiligheidsrisiko nie, maar ook ’n brandgevaar tydens die komende brandseisoen,” sê Ingrid Human, voorsitter van AfriForum se Bethal-tak.
’n Vergadering is ook met besigheidsrolspelers in Bethal belê waartydens terugvoer verskaf is oor die werksaamhede van AfriForum se Bethal-tak in 2018 en verdere beplanning vir 2019 bespreek is.

“Die dorp se verval noop ons almal om saam te span en ons probleme aan te pak – dit is die enigste manier om ’n daadwerklike verandering in Bethal sigbaar te maak,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

Raak vandag nog by AfriForum se Bethal-tak betrokke: SMS “Bethal” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings