AfriForum se Bethal-tak wys dit is #OnsDorp


AfriForum se Bethal-tak het met behulp van Bethal-inwoners se bydraes weer slaggate op dié dorp gevul en ander opknappingsprojekte voltooi. Hierdie projekte vorm deel van AfriForum se #OnsDorp-veldtog, wat daarop gemik is om probleme in dorpe self op te los.

Turnkey Civils Group en All City Towing het gehelp om slaggate in ’n gedeelte van Kleijnhansstraat, tussen Malherbe- en Moses Kotanestraat (N17), asook meeste van die gate in Malherbestraat te vul. Nagenoeg 150 sakke teer is tydens hierdie projek gebruik. AfriForum het Kleijnhansstraat twee jaar gelede volledig herstel, maar gate het intussen weer begin vorm. Volgens Jan Uys van AfriForum se Bethal-tak is meer as 1 950 sakke teer reeds in 2018 gebruik om slaggate op dié dorp te vul.
’n Gat in Malherbestraat – wat deur die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit gegrou is om ’n pyp te herstel – is ook gevul. Die munisipaliteit het dié gat slordig gevul en net so gelaat. Die hoop grond het maande lank in die pad gelê en is later deur die AfriForum-tak in Bethal verwyder.

“Dit is skokkend dat die munisipaliteit toelaat dat ons dorp só verniel word. Veiligheidsrisiko’s word trouens vererger aangesien hulle nie hul werk behoorlik voltooi nie en die gemors nalaat vir ander om op te ruim,” sê Ingrid Human van AfriForum se Bethal-tak.

Die tak en Venter Construction and Renovation het ook aan die tuin by die Nestlé-brug aandag geskenk. Blompotte is oorgeverf en al die onkruid is uit die tuin verwyder. Die slaggate op die brug self is ook gevul. Nóg ’n projek is, ná klagtes van inwoners, geloods om die plaaslike begraafplaas skoon te maak en die gras te sny.

“Met behulp van Bethal se inwoners sal ons aanhou veg om die verval van ons eens pragtige dorp teë te staan,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder in die Laeveld.

Raak by AfriForum se Bethal-tak betrokke: SMS “Bethal” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings