AfriForum se Bethlehem-tak en S.A.S.I red vermiste man se lewe


AfriForum se Bethlehem-tak het gisteraand in samewerking met die South African Support Initiative, (S.A.S.I) – ’n organisasie sonder winsoogmerk wat daarop fokus om vermiste persone op te spoor – die vermiste Louis Strydom (38) opgespoor. Strydom, wat op 16 November 2017 verdwyn het, is gered nadat hy ongeveer vyf dae in die gebied naby die plaas Omdraai in Bethlehem onder ’n rots vasgevang was.
Inligting rondom Strydom en sy verdwyning is deur AfriForum en S.A.S.I versprei waarna Isolde Laesecke, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak, op 21 November gehelp het om ’n wenk (wat ongeveer 13:00 op dié dag deur S.A.S.I ontvang is) op te volg.
Laesecke het saam met Ruan Steinhobel van S.A.S.I die omgewing waar Strydom laaste gesien is, gefynkam en eers sy voertuig opgespoor, daarna sy voetspore gevolg en Strydom uiteindelik onder ’n rots gevind.
Volgens Laesecke het dit aanvanklik gelyk of Strydom reeds dood is, maar by nadere ondersoek kon hulle egter sien hy leef nog en nooddienste is onmiddellik ontbied.
Laesecke sê voorts dat dit reddingswerkers sowat drie uur geneem het om Strydom te stabiliseer en onder die rots uit te kry. Hy is deur Emer-G-Med na die Hoogland Mediclinic geneem waar hy tans aansterk. Strydom was erg gedehidreer, maar het verder geen ernstige beserings opgedoen nie.

“Ons verneem dat die man tot en met vyf dae sonder kos of water onder die rots vasgekeer was. Dit is ’n wonderwerk dat hy nog leef,” sê Laesecke.
“Danksy goeie samewerking en inligting uit die gemeenskap is Strydom gered en kan hy terugkeer na sy gesin,” sê Hennie Bekker, woordvoerder vir AfriForum.

AfriForum bied ook traumaberading aan Strydom en sy gesin.
 

Soortgelyke plasings