|

AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte hou massapatrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het op 8 April 2022 in hul onderskeie gebiede aan dié burgerregteorganisasie se nasionale patrollie deelgeneem om polisiëringsigbaarheid te verhoog. Die patrollie is in samewerking met die SAPD, die nooddienste, verskeie sekuriteitsmaatskappye, plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums en ander veiligheidsinstansies uitgevoer.

Altesaam 96 AfriForum-lede in Bloemfontein en 45 ander mense het aan die patrollie deelgeneem en 2 310 km in 73 voertuie afgelê. Die patrollie het omstreeks 20:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend voortgeduur.

Die buurtwagte het hulp met 12 voorvalle verleen, waaronder ’n ongeluk waarby ’n voertuig betrokke was wat beeste vervoer het. Hulle het die dierebeskermingsvereniging gehelp om die beeste op die N1-snelweg aan te keer om sodoende ’n ernstige ongeluk te voorkom. Verder het die buurtwagte ook gereageer op ander motorongelukke in die stad en twee operasies is ook suksesvol uitgevoer met die hommeltuig wat oor nagvisie beskik om booswigte vinnig te kan opspoor.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol in misdaadbekamping en AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereelde patrollies organiseer om misdaad in samewerking met die SAPD en verskeie sekuriteitsdienste te bekamp,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Sluit vandag aan by jou plaaslike AfriForum-buurtwag en help ons om saam misdaad te bekamp: SMS “Buurtwag” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings