AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte trek verdagtes vas


Lede van AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte het op 9 Julie 2017 twee vermeende inbrekers betrap en ’n verdagte wat in die besit van dwelms was, laat arresteer.

“Die Uitsig-buurtwag was op patrollie toe hulle twee verdagte persone in ’n begraafplaas opgemerk het. Die verdagtes het begin hardloop, waarna die buurtwag hulle gevang en gearresteer het. Daar is onder meer klapmusse, skroewedraaiers, messe en ander huisbraak­toerusting by hulle gevind,” sê Pieter Myburg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

In ’n ander insident dieselfde aand is ’n verdagte voertuig, wat in Pellissierrylaan gestaan het, deur patrollielede, lede van SecuriForce en ITR ondersoek. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is ontbied. Die polisie het gevind dat die insittende in besit van ’n groot aantal kokaïen en heroïen was wat in groot en klein pakkies opgemaak is – moontlik met die doel om dit te verkoop. Die SAPD het die verdagte gearresteer.
Danksy ’n goeie kommunikasiestelsel wat deur AfriForum se Projek Nehemia daargestel is, kon AfriForum verseker dat die nodige bystand betyds verleen is.

“Hierdie twee insidente is ’n bewys dat gemeenskappe goed kan saamwerk om misdaad hok te slaan,” sluit Myburg af.

SMS “Buurtwag” na 45266 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings