| | |

AfriForum se Bloemfontein-takke skenk handreiniger

Die AfriForum-takke in Bloemfontein het oor die afgelope twee weke 500 liter handreiniger aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), brandweerdienste, verkeersdepartemente, ’n skool vir outistiese kinders, ’n nasorgsentrum vir gestremde persone en verskeie ouetehuise geskenk om die veiligheid van inwoners en personeel te verseker. AfriForum is oorval met versoeke van verskillende organisasies en die nege AfriForum-takke in Bloemfontein (Leeuwberg, Uitsig, Pellissier, Fichardtpark, Hospitaalpark, Wilgehof, Langenhovenpark, Rayton-Heuwelsig en Bloemfontein-Noord) het daarom besluit om dié skenking te maak.

Die volgende instansies het skenkings ontvang:

  • SANW 3 Militêre Hospitaal
  • Militêre polisie
  • Munisipale verkeersdepartement
  • Provinsiale verkeersdepartement
  • Mangaung-brandweerdienste
  • Lettie Fouché Skool vir outistiese kinders
  • VS Nasorgsentrum vir gestremde persone
  • Rosenheim-aftreeoord se versorgingseenheid
  • Fichardtpark-aftreeoord se versorgingseenheid
  • Bayswater-aftreeoord se versorgingseenheid
  • Stirling Mediese Sentrum
  • ER24
  • MED24
  • Netcare 911
  • VR Sekuriteit
  • ITR Sekuriteit

Volgens Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek, het die COVID-19-krisis ouetehuise en diensorganisasies onkant gevang en was hulle nie voorbereid op die toename in die gebruik van mediese voorraad nie. Dié voorraad is boonop moeilik bekombaar en instansies word uitgebuit met buitensporige pryse omdat die aanvraag vir handreiniger nou aansienlik hoër is. Personeel van die instansies wat handreinigingsmiddel ontvang het, is daarom baie dankbaar vir die bydrae wat AfriForum aan hulle gemaak het.

“Dit is ’n voorreg dat ons Bloemfontein se noodsaaklike personeel in hierdie tyd van inperking kan ondersteun en sovêr moontlik veilig hou, aangesien hulle verantwoordelik is om die mees kwesbare lede van die gemeenskap te versorg. Ons is opreg dankbaar vir elke nooddienswerker wat hulle eie gesondheid opsy plaas om na die publiek, wat hulle veral nou baie nodig het, om te sien. Saam maak ons met elke projek, ongeag hoe groot of klein, ’n verskil in ons gemeenskap,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad.

Sluit vandag nog by AfriForum aan: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings