| | |

AfriForum se Bloemfontein-takke skenk R90 000 aan Solidariteit Helpende Hand se noodfonds

Die AfriForum-takke in Bloemfontein het R90 000 aan Solidariteit Helpende Hand se noodfonds geskenk wat dié diensorganisasie verder in staat sal stel om gesinne wat deur die staat van inperking geraak word, te ondersteun. Die nege Bloemfontein-takke het Helpende Hand ook sedert 18 April 2020 gehelp om kospakkies by behoeftige mense af te lewer.

Solidariteit Helpende Hand in die Vrystaat het van 18–24 April 2020 altesaam 1 504 mense bygestaan wat uit 249 gesinne (689 mense) en 20 sentrums met altesaam 815 inwoners bestaan. Hulle het van 27 Maart tot 24 April 2020 2 319 mense, insluitend inwoners in sentrums, ondersteun.

Kospakkies is ook op 30 April 2020 aan 20 gesinne in Bloemfontein geskenk wat weens die staat van inperking sonder ’n inkomste gelaat is.

Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad, het die COVID-19-krisis baie gesinne onkant betrap en was hulle nie finansieel daarop voorbereid om voedsel en die nodige toiletware aan te koop nie. “AfriForum se Bloemfontein-takke het daarom saamgespan om die skenking moontlik te maak sodat hierdie mense ook die nodige ondersteuning en hulp kan ontvang.”

Kobus Venter, Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder vir die Vrystaat, was sprakeloos toe hy hierdie nuus ontvang het. Volgens hom gaan hierdie skenking sy streek in staat stel om op mediumtermynbeplanning wat die verbreking van voedselnood moontlik gaan maak, te fokus terwyl hulle nie oor die daaglikse verligting bekommerd hoef te wees nie.

Hy bedank verder elke AfriForum-lid wat hierdie skenking met hul maandelikse bydrae moontlik gemaak het en verseker die Bloemfontein-takbestuur rentmeesterskap oor hierdie skenking.

Help AfriForum om ’n verskil in mense se lewens te maak: SMS “AfriForum” na 45266 (R1).

* AfriForum se Bloemfontein-takke bestaan uit Leeuwberg, Uitsig, Pellissier, Fichardtpark, Hospitaalpark, Wilgehof, Langenhovenpark, Rayton-Heuwelsig en Bloemfontein-Noord.

Soortgelyke plasings