|

AFRIFORUM SE BOTHAVILLE-BUURTWAG HELP OM 17 VERDAGTES VAS TE TREK; TAK VERBETER NETHEID VAN DORP

AfriForum se Bothaville-tak en -buurtwag het die afgelope maand verskeie projekte aangepak om die algehele netheid en veiligheid van die dorp te verbeter.

Volgens Gawie Pretorius, leier van AfriForum se Bothaville-buurtwag, werk die buurtwag baie goed saam met die SAPD. Die volgende 17 arrestasies is gemaak nadat die SAPD gereageer het op wenke van die buurtwag: een vir dwelmhandel, vyf vir besit van dwelms, vier vir besit van gevaarlike wapens, vyf verbode immigrante en twee vir die misbruik van drank in die openbaar. “Dit is lekker om so goed met die SAPD saam te werk, want saam is ons sterker en kan ons ’n groter verskil maak,” sê Pretorius.

Die buurtwag was baie aktief in die dorp en het minstens drie patrollies per nag gery. Hulle het ook met groot sukses aan die nasionale patrollie, wat AfriForum se hoofkantoor gereël het, deelgeneem en in samewerking met die plaaslike polisie arrestasies gemaak. Met behulp van die kameras wat die tak in die dorp opgerig het, is ’n verdagte wat goedere van ’n bakkie gesteel het, in hegtenis geneem.

Die buurtwag het ook ’n brandkraanprojek van stapel gestuur waar inwoners brandkrane op hulle sypaadjies moes opspoor en die koördinate na die buurtwagvoorsitter moes aanstuur. Daar sal nou saam met die munisipaliteit gepoog word om die brandkrane in ’n werkende toestand te kry sodat dit tydens brande ingespan kan word. Inwoners wat intussen brandkrane opspoor kan dit gerus deurgee aan Pretorius by 083 629 3472.

AfriForum se Bothaville-tak het in Maart met ’n volhoubare projek begin waar hulle twee werkers een keer per week huur om in die dorp skoon te maak. Die area waarop daar gefokus is, is die eilande en die veldgedeeltes vanaf die Spur tot by die Sasol-vulstasie. Inwoners wat by hierdie projek wil betrokke raak kan vir Sonya Steenkamp kontak by 083 770 8982.

“Dit is lekker om te sien dat die gemeenskap toenemend besit neem van hulle dorp. Ek wil inwoners aanmoedig om meer betrokke te raak. Saam kan ons Bothaville weer die veilige spogdorp maak wat dit eens was,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Bothaville” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings