|

AfriForum se Bothaville-buurtwag help SAPD om booswigte vas te trek

Die AfriForum-buurtwag in Bothaville en die SAPD het die afgelope naweek sukses behaal toe twee verdagtes in hegtenis geneem is nadat dié dorp die afgelope twee maande gebuk gegaan het onder inbrake wat net ná middernag plaasgevind het. Die verdagtes word met die inbraak by die Drommedaris-apteek verbind en hulle was waarskynlik by nog inbrake betrokke aangesien hulle modus operandi ooreenstem met ander inbrake in die dorp.

Volgens Gawie Pretorius, AfriForum se Bothaville-buurtwagleier, is die grootste probleem tans dat sake nie aangemeld word nie. “Dit maak dit dus moeilik om ’n patroon vas te stel van hoe misdadigers te werk gaan. As daar boonop nie saaknommers is nie, kan ons nie die sake afhandel of met ander sake verbind nie. Ons doen ’n beroep op inwoners om sake aan te meld en deur te gee aan die buurtwag of die SAPD. Daar is baie goeie samewerking tussen die buurtwag, CSS, Alarm Pro en die SAPD wat dit maklik maak om inligting onder mekaar te deel.”

“Dit is goed as gewoontemisdadigers vasgetrek word, maar die gemeenskap moet ook hulle deel doen en enige misdaad, hoe gering ookal, by die SAPD aanmeld. Die gemeenskap het groot waardering vir die onbaatsugtige werk wat die buurtwaglede en ander veiligheidsrolspelers in die dorp doen,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die buurtwag is ook nou tydens die brandseisoen op ’n gereedheidsgrondslag en verleen gereeld hulp om brande te blus. Die tak moedig die gemeenskap aan om by die AfriForum-tak en -buurtwag betrokke te raak. SMS “Bothaville” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings