AfriForum se Brakpan-buurtwag hou patrollie en ontvang nuwe toerusting


Die AfriForum-buurtwag in Brakpan het op 17 Junie 2018 ’n patrollie in dié dorp gehou, asook nuwe veiligheidstoerusting ontvang. Dít volg nadat die plaaslike tak dié behoefte geïdentifiseer het weens ’n toename in misdaadaktiwiteite in die omgewing. Die toerusting sluit 11 koeëlvastebaadjies, 20 glimbaadjies en 40 voertuigmagnete in.

“Die buurtwag vorm deel van AfriForum se plaaslike takstrukture en het ten doel om die gemeenskap in samewerking met die polisie in tye van nood by te staan. Gedurende die patrollie is 720 km en 158 manure deur 42 patrolleerders in 35 voertuie afgelê,” sê Gerhard Cilliers, voorsitter van AfriForum se Brakpan-tak.
“Veiligheidstoerusting is van onskatbare waarde vir enige veiligheidstruktuur. Die Brakpan-buurtwag kan hiermee daadwerklik bydra tot die bekamping van misdaad in dié gebied. Die buurtwag sal voortaan soortgelyke aksies en patrollies loods in samewerking met alle veiligheidstrukture om kriminele aktiwiteite te stuit,” sê Ian Beresford, voorsitter van die veiligheidsportefeulje van AfriForum se Brakpan-tak.
“Ons moedig die gemeenskap aan om by sowel die plaaslike tak as buurtwag betrokke te raak. Hoe meer mense betrokke is, hoe groter die verskil wat ons kan maak,” sluit Cilliers af.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak en -buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings