AfriForum se Brakpan-buurtwag ontvang toerusting


AfriForum se Brakpan-tak het in Augustus nuwe veiligheidstoerusting ontvang. Dit volg nadat die plaaslike tak dié behoefte geïdentifiseer het weens ’n toename in misdaadaktiwiteite in die omgewing. Die toerusting sluit glimbaadjies, voertuigmagnete en radio’s in.

“Die buurtwag het die afgelope twee maande baie nuwe lede bygekry en dit is uiters belangrik dat hulle die korrekte toerusting moet hê. Die buurtwag vorm deel van AfriForum se plaaslike takstruktuur en het ten doel om die gemeenskap in samewerking met die polisie in tye van nood by te staan,” sê Gerhard Cilliers, AfriForum se Brakpan-takvoorsitter.
“Behoorlike toerusting stel die buurtwag in staat om daadwerklik tot die bekamping van misdaad in dié gebied by te dra. Die buurtwag sal voortaan fokus op die aanvulling van toerusting en die oplei van patrolleerders om hulle te bemagtig om ’n proaktiewe verskil in die gemeenskap te maak,” sê Ian Beresford, AfriForum se Brakpan-veiligheidsvoorsitter.
“Ons moedig die gemeenskap aan om by die plaaslike AfriForum-tak en ‑buurtwag betrokke te raak. Hoe meer mense betrokke is, hoe groter die verskil wat ons kan maak,” sluit Cilliers af.

Raak vandag by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings