|

AfriForum se Brakpan-tak help met herstelwerk by Tweedy Park

Die AfriForum-tak in Brakpan het die afgelope naweek gehelp om twee geisers by die Tweedy Park-woonsteleenhede, wat hoofsaaklik bejaarde inwoners huisves, te vervang. Dít volg nadat gemeenskapslede en die inwoners die afgelope jare verskeie klagtes by die Ekurhuleni-metro ingedien het oor die agteruitgang van die eenhede. Die tak het in die verlede al die metro namens die inwoners versoek om gereeld instandhoudingswerk te verrig.

Die tak het onder meer verskeie skrywes en aanmanings aan die metro gerig wat op dowe ore geval het. Die geisers is vervang nadat twee gemeenskapslede die tak genader het vir bystand met die vervanging van twee van die veertien eenhede se geisers. Daar is ook met ander algemene instandhouding gehelp.

Die twee gemeenskapslede het binne 20 minute ’n groot waterlek, wat reeds vier maande gelede by die metro aangemeld is, teen R150 herstel. Die geisers is ongelukkig nie die enigste probleme by Tweedy Park nie. Slegs een van die twee hysbakke is in ’n werkende toestand, die saal se dak het aan die voorkant ingeval en die eenhede se algemene instandhouding is gebrekkig.

“Dit is hartseer dat ons bejaardes in sulke omstandighede moet woon. Dit is belangrik dat die gemeenskap saamstaan om die metro te verplig om hul verantwoordelikheid na te kom,” sê Stephanus (Butch) Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“AfriForum se Brakpan-tak wil die twee gemeenskapslede bedank vir die herstel van die waterlek. Ons hoop die geisers wat vervang is en algemene herstelwerk lei tot die verbetering van die bejaardes se omstandighede,” sê Gerhard Cilliers, voorsitter van AfriForum se Brakpan-tak.

Soortgelyke plasings