AfriForum se Brakpan-tak skep hoop tydens boomplantmaand


Die AfriForum-tak in Brakpan het as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaand 20 bome by Laerskool Môrewag en tien bome by die Ou Apostoliese kerk in Minnebron, geplant.

Volgens Gerhard Cilliers, voorsitter van AfriForum se Brakpan-tak, beoog die organisasie om vanjaar meer as 2 000 bome landwyd te plant. “Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit esteties te verbeter nie – ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is uit die aard van die saak ’n belangrike deel van die ekostelsel en ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron, maar ook deel van ons erfenis,” sê Cilliers.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig sy takke aan om inheemse bome te plant wat maklik in hul natuurlike omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n ewigdurende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het wel deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Brakpan onderneem om hierdie sorg self te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en opregte hoop vir die toekoms het,” sluit Cilliers af.

AfriForum betoon graag hul dank aan Wildflower Nursery vir die skenking van die bome.
Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings