| |

AFRIFORUM SE BRITS-BUURTWAG TREK VERDAGTES VAS MET HULP VAN SEKURITEITSMAATSKAPPYE

Die AfriForum-buurtwag in Brits het om ongeveer 19:00 op 24 Junie verdagtes aangekeer in samewerking met Monitor Net Response en PPS Monitering en Reaksie. Lede van die buurtwag het tydens ’n patrollie ’n verlate voertuig op ’n grondpad buite die dorp opgemerk. Hulle het die voertuig genader en naby die voertuig op verdagte persone afgekom. Die verdagtes is met die hulp van Monitor Net en PPS gekonfronteer, waarna die SAPD gekontak is omdat dwelms en ammunisie by die verdagtes gekry is. Een van die verdagtes is in hegtenis geneem en ’n saak is aanhangig gemaak sodat die geval verder ondersoek kan word.

“AfriForum se Brits-buurtwag is daarop gefokus om misdaad te bekamp en ons is daarom dankbaar dat die verdagtes vasgetrek kon word. Dié geval beklemtoon weereens die belangrikheid van samewerking en proaktiewe optrede in die bekamping van misdaad. Hierdie sukses sou onmoontlik gewees het sonder die toewyding van die buurtwaglede, goeie kommunikasie en die ondersteuning van die sekuriteitsmaatskappye nie,” sê Thys van Heerden, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Brits-tak.

“Die toewyding van AfriForum se Brits-buurtwag is ’n riem onder die hart en ’n uitstekende voorbeeld van ’n gemeenskap wat verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid aanvaar. Hierdie sukses is een van vele wat al deur die proaktiewe optrede van die buurtwag behaal is. Baie dankie aan elke buurtwaglid vir hul harde werk en hul bydrae tot ’n veiliger gemeenskap. Dit is van kardinale belang dat ander gemeenskappe hulself ook in veiligheidstrukture organiseer om hul weerbaarheid te verbeter,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum wil ’n groter verskil in Brits maak in terme van veiligheid en gemeenskapsprojekte. Ons moedig inwoners dus aan om vandag nog by AfriForum se Brits-tak en -buurtwag aan te sluit deur Van Heerden by 084 515 3978 of 067 395 6307 te skakel. Jy kan ook “Brits” na 45344 SMS (R1).

Soortgelyke plasings