|

AfriForum se Brits-buurtwag wen twee toekennings

Die AfriForum-buurtwag in Brits is op 27 November 2021 tydens AfriForum se jaarlikse veiligheidstoekennings aangewys as Buurtwag van die Jaar vir die sentraalstreek (KwaZulu-Natal, Noordwes en die Vrystaat) terwyl Thys van Heerden die toekenning ontvang het vir Buurtwagleier van die Jaar vir dié streek. Die buurtwag bedien 11 sektore wat strek vanaf Zilkaatsnek tot Soutpansdrif en bestaan uit 22 sektorleiers. Die Brits-tak het tans 822 lede en 194 buurtwaglede.

“Die toekennings getuig van die uitstekende diens wat AfriForum se vrywilligers – op hul eie tyd en onkoste – aan die gemeenskap lewer. AfriForum se doel is om ’n veilige en beter gemeenskap te skep deur mense in staat te stel om verantwoordelikheid te neem vir hul eie veiligheid,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Ons is baie dankbaar om hierdie toekennings te ontvang, dit is definitief die resultaat van goeie spanwerk en kommunikasie tussen die verskeie sektore. Ek is trots om te sê dat ons veiligheidstruktuur goed georganiseer is en dat dit ons help om ons gemeenskap veiliger te maak. Baie dankie aan elke buurtwaglid,” sê Van Heerden, leier van AfriForum se Brits-buurtwag.

“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en self hul veiligheid te begin prioritiseer. Ons kan nie op die staat alleen vertrou om na ons veiligheid om te sien nie. Raak by enige plaaslike veiligheidsinstelling in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

Word vandag nog deel van AfriForum se Brits-buurtwag: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1) of skakel vir Van Heerden by 067 395 6307.

Soortgelyke plasings