|

AfriForum se Brits-tak loods petisie ná Eskom dreig om krag te sny

AfriForum se Brits-tak het ’n petisie opgestel nadat Eskom gedreig het om dié dorp en die omliggende gebiede se elektrisiteit van 3 Julie 2020 te sny weens die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit se skuld. Die munisipaliteit skuld ongeveer R138 miljoen aan Eskom en die organisasie hoop dat die petisie sal help om te verhoed dat die elektrisiteitstoevoer gesny word. Daar word beoog om die elektrisiteit na Brits, Elandsrand, Lethlabile, Oukasie, Damonsville en Primindia te sny.

Die organisasie het reeds skrywes aan sowel Jostina Mothibe, burgemeester van die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit, as Eskom gerig, waarin daar versoek word dat die elektrisiteit nie opgeskort moet word nie.

“Die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit bewys voortdurend dat hulle onbekwaam is om natuurlike en finansiële bronne te bestuur. In hierdie geval betaal die inwoners van die area pligsgetrou hul elektrisiteitsrekening aan die munisipaliteit, maar die munisipaliteit versuim om hul rekening by Eskom te betaal. Die onbevoegde en onkundige munisipale bestuur het veroorsaak dat die munisipaliteit ’n reusebedrag aan Eskom skuld,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Volgens die bestuur van die Brits-tak is dit veral kommerwekkend dat die gemeenskap tydens die COVID-19-pandemie ook nog bekommerd moet wees oor basiese dienste soos water- en elektrisiteitsvoorsiening.

AfriForum sal alles moontlik doen om te verseker dat die dorp se ligte aanbly. Jy kan help deur die petisie te onderteken. Lede van die publiek het tot 12 Junie 2020 om die petisie te onderteken.

Soortgelyke plasings