|

AfriForum se Brits-tak help munisipaliteit met herstelwerk

AfriForum se Brits-tak het die afgelope tyd in samewerking met Madibeng Plaaslike Munisipaliteit en die Departement van Openbare Werke riool-, water-, krag-, en vullisverwyderingsprojekte in Sonop gedryf. Dié projekte het plaasgevind nadat die Sonop-gemeenskap die afgelope 10 maande met erge riool- en diensleweringsprobleme gesukkel het.

AfriForum het die Departement van Openbare Werke met dié probleme gehelp deur die nodige toerusting en mannekrag om die toerusting te hanteer te verskaf, terwyl die Departement van Openbare Werke die herstelwerk gedoen het. Twee verstopte rioolpype, ’n kragkabel en ’n waterpyp is herstel. AfriForum het die gemeenskap ook bygestaan deur vullis by die plaaslike kleuterskool in Sonop te verwyder.

“Die riool het in die strate afgevloei en was ’n geweldige gesondheidsrisiko vir die inwoners. AfriForum het druk op die Departement van Openbare Werke toegepas waarna hulle onderneem het om die infrastruktuur te herstel. Die tak het ingespring om te help aangesien die munisipaliteit nie die nodige toerusting gehad het nie,” sê Dewald van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Brits-tak.

“Dit het onder AfriForum se aandag gekom dat die Departement van Openbare Werke hul plig om herstelwerk te doen en basiese dienste te lewer, versuim. AfriForum sal as burgerregtewaghond aanhou om munisipaliteite verantwoordbaar te hou sodat inwoners die nodige dienste van munisipaliteite ontvang.

“Ons wil graag al ons AfriForum-lede vir hul maandelikse bydraes bedank – sonder julle ondersteuning sal ons dit nie kan doen nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum moedig gemeenskapslede en sakeondernemings aan om vandag nog by AfriForum se Brits-tak betrokke te raak sodat soortgelyke projekte aangepak kan word. SMS “Brits” na 45351 (R1) of bel vir Dewald van Vuuren by 082 837 9979 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings