|

AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwag help SAPD ná skietvoorval

Die AfriForum-buurtwag in Bronkhorstspruit het die SAPD op 28 September 2020 in ’n skietvoorval bygestaan nadat ’n gewapende roof skeefgeloop het. Dit volg nadat ’n sakeman en sy twee seuns vermoedelik van hul sakeonderneming na hul huis agtervolg is.

Die sakeman het sy oudste seun by die kompleks waar hy woon afgelaai toe ’n wit Audi langs hul bakkie stop en skote afvuur. Die sakeman is noodlottig gewond en sy jongste seun is in die skouer gewond.

Die rowers het egter met leë hande weggejaag toe die oudste seun op hul begin skree het dat hul geen kontant by hul het nie. Hy het dadelik in die bakkie gespring en met sy pa en jonger broer na die hospitaal gejaag. Die sakeman is by die hospitaal dood verklaar en die jonger seun sterk tans in die hospitaal aan.

Die SAPD en AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwag is dadelik na die toneel om hulp en bystand te bied en het probeer uitpluis wat vroeër plaasgevind het nadat hul by ’n leë misdaadtoneel opgedaag het. Die toneel is veilig verklaar en die verkeer is gereguleer om ’n volwaardige ondersoek te laat plaasvind. Dit is tans onduidelik hoeveel verdagtes betrokke was en wat die Audi se registrasienommer is.

“Ek wil lede van die publiek herinner om ekstra paraat en bewus te wees. Ons beweeg na die tyd van die jaar toe waar misdaad drasties toeneem en misdadigers desperaat is,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale veiligheidskoördineerder vir Gauteng.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-buurtwag betrokke: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings