|

AFRIFORUM SE BRONKHORSTSPRUIT-BUURTWAG VIND GESTEELDE TROK TERUG

Een van AfriForum se buurtwaglede het op 26 Maart 2021 om 06:00 verby ’n soja-landery gery en opgemerk dat ’n Tata-trok in die landery versteek is en vol dou was. Hy het dit aangemeld aan die buurtwagleier van AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwag, Magda Lewis. Lewis en ’n ander buurtwaglid het na die trok gery waarna hulle die polisie gekontak het om ondersoek in te stel.

Die polisie het die trok se VIN-nommer getoets en gesien dat die voertuig as gesteel aangemeld is uit Brakpan.

“AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwag het bewys dat ons hier is om saam met die polisie te werk en sodoende deel van die oplossing te wees. Suksesse soos hierdie word gedryf deur samewerking tussen die polisie en die gemeenskap, en doeltreffende kommunikasie,” sê Sampie Steinberg, distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Lewis moedig die gemeenskap aan om aan te sluit by die buurtwag om sodoende die gemeenskap te verbeter en te beveilig.

Intussen het die buurtwag op die naweek van 26 tot 28 Maart ’n massa-sigbaarheidspatrollie gehou saam met WE Ambulanse, twee insleepdienste en JVR Sekuriteit. Altesaam 26 patrolleerders het in 12 voertuie aan die patrollie deelgeneem en geen voorvalle is aangemeld nie.

“AfriForum sal voortdurend soortgelyke projekte uitvoer en patrollies hou om misdaad hok te slaan en veiligheid te verbeter in gemeenskappe in samewerking met die polisie en ander veiligheidsinstellings,” sê Steinberg.

Raak vandag nog betrokke deur “Bronkhorstspruit” te SMS na 45341 (R1) vir meer inligting oor die tak en hoe om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings