|

AFRIFORUM SE BULTFONTEIN-BUURTWAG TREK VEEDIEWE VAS

Die AfriForum-buurtwag in Bultfontein het op 1 April 2021 vyf verdagtes op ’n plaas wat aan die dorp grens in hegtenis geneem vir sowel poging tot veediefstal as diefstal.

Die buurtwag is in kennis gestel dat daar ’n poging tot veediefstal op ’n plaas was, waarna beskikbare buurtwaglede onmiddellik ontplooi is. Buurtwaglede het opgemerk dat sommige van die verdagtes deur ’n veld probeer vlug, maar danksy doeltreffende radiokommunikasie en goeie samewerking tussen die buurtwag en die polisie is twee verdagtes suksesvol in hegtenis geneem.

Kort daarna is die ander drie verdagtes opgemerk. Reaksielede en lede van die Welkom SAPD se honde-eenheid het die verdagtes se spoor gevolg en binne etlike minute is nog twee verdagtes vasgetrek. Die laaste verdagte het probeer vlug deur in ’n waterpan in te loop, maar is ook uiteindelik in hegtenis geneem danksy ’n buurtwaglid en reaksielid wat die water aangedurf het.

Ná verdere ondersoek is vasgestel dat twee van die verdagtes betrokke was by die poging tot veediefstal en die ander drie word verbind met die diefstal van groenmielies. Tydens die ondersoek het die buurtwag in samewerking met die polisie verdagte persele deursoek en tydens dié soektog beslag gelê op twee ongeslypte diamante.

Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, het die buurtwaglede vir hul betrokkenheid bedank en die gemeenskap aangemoedig om aan die buurtwag se aktiwiteite deel te neem.

“Ons moedig die gemeenskap aan om by ons strukture in te skakel en sodoende ’n daadwerklike verskil te maak. Veiligheid is vir ons ’n prioriteit en daarom wil ons die gemeenskap uitnooi om by ons buurtwag aan te sluit,” sê Morgan.

Sluit vandag nog by jou plaaslike AfriForum-buurtwag aan: SMS “Buurtwag” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings