| |

AfriForum se buurtwag in Bronkhorstspruit help met brand tydens sigbaarheidspatrollie

AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwag het op 1 Oktober in die vroeë oggendure hulp verleen aan ’n gesin wie se huis gebrand het.

Magda Lewis, voorsitter van AfriForum se Bronkhorstpruit-buurtwag, en haar kollega het tydens ’n roetinesigbaarheidspatrollie ’n swart rookwolk gesien en onmiddellik ondersoek ingestel. Hul het besef dit is ’n huis wat brand en die buurtwag is dadelik ontbied om te help om meubels en ander waardevolle items uit die huis te dra.

Volgens die huiseienaar, Pierre Gouws, is die brand vermoedelik veroorsaak deur ’n kragopwekker wat moontlik brandstof gelek het. Die polisie, brandweer en nooddienste was vinnig op die toneel.

Gouws sê hy het die nuwe kragopwekker aangeskakel en toe werk toe gegaan. Sy vrou, wat by die huis was, het ontdek dat die kragopwekker aan die brand was en het probeer om dit te blus met ’n huishoudelike brandblusser. Die brand het egter vererger en verder in die buitegeboue, wat waardevolle inhoud bevat, versprei.

Stephan Moulder, ’n lid van die plaaslike buurtwag, het KPR op een van die inwoners se honde toegepas wat weens uitputting bewussyn verloor het. Die hond is later deur nooddienste verder behandel met suurstof.

Die buurtwaglede het ook die huisinhoud wat uitgedra is, opgepas om diefstal te voorkom. Traumaberading is aan die huiseienaars aangebied. Die polisie sal verdere ondersoek instel na die voorval.

“Lede van die gemeenskap moet betrokke raak by hul plaaslike buurtwagte waar gereelde opleiding aangebied word om noodsituasies te hanteer. Dit is altyd sleg om van hierdie tipe gevalle te hoor maar ons moet kyk hoe die gemeenskap mekaar kan help en bystaan,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Gauteng.

Soortgelyke plasings