| |

AfriForum se buurtwagte in die Groter Pretoria-gebied neem deel aan nasionale massapatrollie

AfriForum se buurtwagte in die Groter Pretoria-gebied het op 18 September deelgeneem aan dié burgerregteorganisasie se nasionale massapatrollie. Die patrollie het in samewerking met verskeie sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapslede plaasgevind, wat gehelp het om sigbaarheid in die area te verhoog.

Altesaam 349 voertuie, 496 gemeenskapslede en 259 AfriForum-buurtwaglede het aan die patrollie deelgeneem. Die lede het gedurende die massapatrollie 10 145 km in die verskillende gebiede afgelê en het met agt insidente bystand gebied. Alle deelnemers het streng voldoen aan al die vereiste regulasies en binne die raamwerk van die toepaslike wetgewing opgetree.

“Dit is vir AfriForum uiters belangrik om voort te kan gaan met sigbaarheidspatrollies ten einde die veiligheid van ons gemeenskappe te verseker,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Noord-area.

Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Groter Pretoria-Suid-area, sê goeie samewerking tussen verskillende strukture is uiters belangrik tydens hierdie onsekere tye, om misdaad hok te slaan.

“Suksesse soos hierdie word gedryf deur samewerking en doeltreffende kommunikasie tussen die gemeenskap en privaat sekuriteit. Die buurtwagte stel ’n goeie voorbeeld van die sukses wat bereik kan word as die gemeenskap saamstaan en proaktief optree.”

“AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak en self hul veiligheid te prioritiseer. Raak by enige veiligheidsinstelling in jou omgewing betrokke of sluit vandag nog by AfriForum aan en word deel van die oplossing,” sluit Steinberg af.

Raak vandag aktief by AfriForum se buurtwagte betrokke: SMS jou naam na 45341 (R1) en maak op dié manier ’n positiewe bydrae.

Soortgelyke plasings