| | |

AfriForum se buurtwagte in die suidstreek neem aan versetpatrollie deel

AfriForum se buurtwagte in die suidstreek het op 6 Junie 2020 aan AfriForum se nasionale versetpatrollie deelgeneem nadat daar heftige teenkanting van regeringsamptenare was dat buurtwagte tydens vlak 3 mag patrolleer. Die patrollie vorm ook deel van die amptelike aktivering van buurtwaginisiatiewe.

Altesaam 333 AfriForum-lede en 54 ander veiligheidsrolspelers het aan dié patrollie deelgeneem. Die patrollie is met 232 voertuie uitgevoer. Verskeie instansies wat privaat buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye, polisiestasies, nood mediese dienste en verkeersafdelings insluit, het ook aan die patrollie deelgeneem.

Die goeie deelname aan dié patrollie – wat op kort kennisgewing gereël is – bewys dat gemeenskappe besef dit is noodsaaklik om hulself te beskerm. Die doel van AfriForum se nasionale patrollies is om gemeenskappe teen misdaad te mobiliseer, hoë sigbaarheid te bewerkstellig en om samewerking tussen veiligheidsrolspelers sowel nasionaal as plaaslik te verbeter.

“Met misdaad wat die afgelope tyd beduidend toegeneem het, is dit belangrik dat die staat besef hulle kan nie misdaad op hulle eie houtjie beveg nie. Die lae misdaadstatistiek wat tydens die nasionale patrollie aangeteken is, dui duidelik daarop dat dié tipe optrede van groot waarde is. AfriForum-buurtwagte dien as die oë en ore van die SAPD; volg altyd die voorgeskrewe riglyne en tree ook binne die raamwerk van die wet op,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek.

Raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke: SMS jou naam na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings