|

AfriForum se Centurion-tak gaan voort met skoonmaak van park

Die AfriForum-tak in Centurion het op 12 September voortgegaan om die Montague Kneen-park in Valhalla skoon te maak en talle gemeenskapslede het hand bygesit.

AfriForum het talle skrywes aan die Tshwane-metro gerig rakende die toestand van dié park en ook versoek dat die metro ’n aksieplan moet voorlê vir die opknapping daarvan. Geen terugvoer is egter tot dusver ontvang nie.

Die tak het dus eienaarskap van die park geneem en sal dit voortaan self skoonmaak en onderhou. Groot dele rondom die waterkanaal is skoongemaak en ontbos om die veiligheid in die gebied te verbeter. Gras is ook gesny en vullis is verwyder om die algehele toestand van die park op te knap.

“Baie dankie aan almal wat by die projek betrokke was. Wanneer gemeenskappe saamwerk kan ’n skoner en veiliger omgewing geskep word,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“AfriForum se strukture sal aanhou om te verseker dat ’n gesonde omgewing vir almal geskep word en sal hard werk om te verhoed dat dieselfde probleme weer herhaal word. Ons is dankbaar vir elkeen wat hul tyd opgeoffer het om aan hierdie projek deel te neem,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“Hierdie is ’n goeie voorbeeld dat ons eienaarskap sal neem en self probleme sal aanpak om die omgewing te verbeter,” sluit Nel af.

Raak vandag nog by AfriForum se Centurion-tak betrokke en word deel van die oplossing: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings