|

AfriForum se Centurion-tak maak park skoon; herstel waterlek

AfriForum se Centurion-tak het op 22 Augustus en 24 Augustus ’n skoonmaakaksie van stapel gestuur en herstelwerk in die Valhalla-omgewing gedoen.

Op 22 Augustus is ’n skoonmaakaksie in Montague Kneen Park van stapel gestuur. Montague Kneen Park se terrein word gereeld gebruik vir die onwettige storting van bourommel en bande. AfriForum het reeds op 23 Julie ’n skrywe aan die Tshwane Metro gerig rakende die toestand van die park en nog geen terugvoer ontvang nie.

Verskeie lede van die publiek het saam met die Centurion-tak hande gevat en hierdie aksie aangepak. Die park se gras is gesny, vullis is opgetel en verwyder, takke is verwyder, en die badkamers op die perseel is ook skoongemaak.

“Die sukses van hierdie aksie bewys dat ’n gemeenskap wat saamwerk enigiets kan regkry. Daar is egter nog heelwat werk wat gedoen moet word om dié park weer op standaard te kry,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Die Centurion-tak het ook op 24 Augustus ’n waterlek in Furman Park – wat vir langer as ’n jaar gelek en reeds duisende liters drinkwater vermors het – herstel. ’n Plaaslike loodgieter, Plumbline Plumbing is genader om hierdie waterlek te herstel.

“Water is kosbaar en ons het dit daagliks nodig, daarom het die Centurion-tak besluit om die gemeenskap by te staan en die waterlek te herstel,” het Steinberg oor dié aksie gesê.

“AfriForum sal voortgaan om probleme in gemeenskappe te takel en druk op die metro’s te plaas om hierdie probleme op te los. Ons glo ook in selfdoen en ons sal aanhou om hierdie tipe projekte aan te pak om ’n veilige en gesonde omgewing vir almal te skep,” sê JP Nel, distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Die Centurion-tak wil graag die gemeenskapslede bedank wat tyd opgeoffer het om deel te neem aan hierdie aksies. Daar word in die komende maand verskeie projekte beplan en die tak wil die gemeenskap en ondernemings in die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak by hierdie projekte.

Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings