|

AfriForum se Centurion-tak neem twee parke in Centurion aan

Die AfriForum-tak in Centurion het twee parke in die Centurion-area aangeneem as deel van die Adopt-a-Spot-projek wat deur die Tshwane Metro van stapel gestuur is. Dit volg nadat AfriForum aansoeke ingestuur het om die algehele instandhouding van hierdie parke oor te neem en sodoende die metro se las te verlig. Hierdie parke is Furman-park en Montaque Kneen-park in Valhalla.

Die doel van die Adopt-a-Spot-program is om vir organisasies of individue die geleentheid te gee om sekere gebiede self te onderhou. Dit help om die Metro se werkslading te verminder en gee ook die gemeenskap die geleentheid om eienaarskaap te neem van sekere gebiede.

AfriForum se Centurion-tak het sedert middel verlede jaar al begin om hierdie parke op te knap deur gras te sny, takke en vullis te verwyder en die algemene veiligheid van die parke te verbeter. Die tak het ook al verskeie projekte saam die gemeenskap in hierdie parke aangepak en wil graag aanhou om die gemeenskap hierby betrokke te hou.  

“Dankie aan ons lede wat dit moontlik maak om projekte soos hierdie aan te pak. Ons droom is om nog groter projekte aan te pak en orals in Centurion ’n daadwerklike verskil te maak. As jy nog nie deel is hiervan nie, kom help ons om die tuinspan te vergroot met nog voertuie, sleepwaens en toerusting,” sê André de Bruyn, voorsitter van AfriForum se Centurion-tak.

“AfriForum is dankbaar teenoor die Metro dat hierdie program begin is. Nie net stel dit AfriForum in staat om selfdoen in hierdie parke toe te pas en die algemene netheid daarvan op te knap nie, maar dit bied ook ’n geleentheid om hande met die Metro te vat. Dit is vir ons belangrik dat die gemeenskap weer hierdie parke kan geniet en veilig voel wanneer hierdie parke besoek word,” sê Jp Nel, AfriForum distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid. 

Die tak beplan reeds hulle volgende groot aksies en projekte en wil die gemeenskap uitnooi om hul Facebook-blad dop te hou en om by die groepe op die Telegram-toep aan te sluit. Raak vandag nog by AfriForum se Centurion-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Centurion” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings