|

AfriForum se Centurion-tak pak belangrike probleme in die gemeenskap aan

Die AfriForum-tak in Centurion het sedert die begin van die jaar al meer as sewe skoonmaakprojekte geloods, waaronder die volhoubare projekte wat reeds in 2021 deur die tak begin is.

Die tak het gedurende Januarie die Montaque Kneen-park, Furman-park en die tennisbaanpark in Valhalla se gras gesny, skoongemaak en vullis in die parke verwyder.  Die Montaque Kneen-park en Furman-park vorm deel van die Adopt-a-Spot-program waar die tak hierdie twee parke aangeneem het om te onderhou.  In Furman-park alleenlik is daar meer as 77 sakke vullis verwyder en meer as 11 000 m2 se gras gesny.

Verder het die AfriForum-tak in Centurion op die hoek van Koranna- en Zambesi-laan in Doringkloof die gemeenskap gehelp om die area weer skoon en netjies te kry.  Daar is meer as 158 sakke vullis verwyder en 20 000 m2 se gras gesny.  Die tak is die laaste paar dae besig om langs die R101 in Eldoraigne skoon te maak.  Daar is verskeie klagtes ontvang oor ’n toename in misdaad in die omgewing en daarom het die tak besluit om in te spring en skoon te maak.

“AfriForum sal aanhou om gemeenskappe by te staan en probleme aan te pak. Ons is besig om ’n beter omgewing vir almal te skep en daarom sal ons aanhou om ’n sukses van hierdie tipe projekte te maak. Ons wil graag elke bestuurslid en gemeenskapslid wat hierby betrokke is, bedank vir al hulle harde werk,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

“Baie dankie vir al die glimlagte en positiewe opmerkings, julle hou ons aan die gang. Stadig maar seker is ons besig om ’n groot verskil te maak,” sê André de Bruyn, voorsitter van AfriForum se Centurion-tak.

Die tak beplan om vanjaar nog verskeie groot projekte aan te pak en wil die gemeenskap graag uitnooi om meer betrokke te raak. Besoek gerus die AfriForum-tak in Centurion se Facebook-blad en sluit ook by die Telegram-groepe aan.  Laai die Telegram-toep gratis af en soek na @AfriForumBuurtBot.

Raak vandag nog by AfriForum se Centurion-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Centurion” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings