|

AfriForum se Centurion-tak skenk herwinningshokke

AfriForum se Centurion-tak het op 23 Oktober drie herwinningshokke en een ton sakke aan die Laerskool Wierdapark geskenk.

Die skool het reeds ’n baie suksesvolle herwinningsprojek aan die gang en die hokke sal bydra tot hierdie projek. Die sakke word in die hokke geplaas. Daar is dan afsonderlike hokke vir glas, plastiek en metaal. Leerders, onderwysers en ouers van die laerskool word dan aangemoedig om dié sakke vol te maak om herwinning te bevorder.

“Ons besef terdeë dat ons ’n enorme groot agterstand het met herwinning in Centurion en hoop om nog vele sulke stasies te kan oprig, of dié wat reeds bestaan van hulp te wees,” sê André de Bruyn, voorsitter van AfriForum se Centurion-tak.

“AfriForum sal aanhou om bystand te bied aan gemeenskappe om projekte soos hierdie aan te pak en suksesvol uit te voer. Ons is baie dankbaar teenoor die skool vir die geleentheid om die hokke aan hulle te skenk en hoop om vorentoe verskeie projekte aan te pak,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

“AfriForum wil graag die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak by herwinningsprojekte en sodoende saam ’n skoner en veiliger omgewing vir almal te skep,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Die tak wil graag ander skole en besighede in die omgewing uitdaag om ook sulke projekte te begin en saam te werk om ’n beter omgewing te skep. Die tak beplan om verskeie ander projekte in die toekoms aan te pak.

Raak vandag nog by AfriForum se Centurion-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Centurion” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings