|

AfriForum se Centurion-tak verklaar oorlog teen kabeldiefstal en onwettige storting van vullis

Diewe en vandale wat substasies in Centurion beskadig, sal voortaan moet ligloop nadat die plaaslike AfriForum-tak pas ’n nuwe sekuriteitskamera by een van die substasies in dié gebied opgerig het. Die voorkoms van kabeldiefstal by die substasie in Clubview het die Centurion-tak genoop om ’n plan te maak om diefstal en sommer ook die onwettige storting van vullis op die aangrensende terrein hok te slaan. Dié stap vorm deel van ’n uitgebreide veiligheidstrategie wat AfriForum se Centurion-tak afgeskop het en ten bedrae van sowat R80 000 geïmplementeer sal word. 

Volgens Dewet Ungerer, AfriForum-koördineerder vir die Groter Pretoria-Suid-streek, sal die sekuriteitskamera wat nou opgestel is, AfriForum se plaaslike tak- en buurtwag bemagtig met die nodige inligting om die oortreders vas te vat, beweging in die omgewing van die substasie te monitor en uiteindelik kabeldiefstal en vandalisme van die substasie te keer. Die inligting sal ook aan die relevante afdelings in die Tshwane-metro deurgegee word.

“Die voorkoms van kabeldiefstal, vandalisme en rommelstorting op die terrein is ’n reusekopseer vir die inwoners van Centurion en daarom was dit nou noodsaaklik om in te gryp om hierdie probleme te takel. Dit sal uiteindelik ook as deel van die tak se groter veiligheidstrategie kan help toesien dat inwoners in dié deel van die stad in skoon en veilige buurte bly,” verduidelik Ungerer.

Die inkoop van die Centurion-gemeenskap is egter noodsaaklik vir die sukses van die strategie, benadruk Ungerer. “Inwoners sal ons byvoorbeeld moet bystaan deur onder meer onwettige storting van rommel aan te meld.”

Meld veiligheidsprobleme, slaggate, rommelstortings en foutiewe straatligte in Centurion vandag nog aan by AfriForum se Centurion-tak. Stuur ’n e-pos na centurion@afriforumtak.co.za om probleme aan te meld.

Soortgelyke plasings