|

AfriForum se Christiana-tak maak dorp skoon

Die AfriForum-tak in Christiana het op 7 Februarie 2020 dié dorp skoongemaak en vullis verwyder waar dit onwettig gestort is. Verskeie inwoners het hul ontevredenheid uitgespreek oor die toestand van die dorp en die AfriForum-tak het onmiddellik ingespring om die dorp skoon te maak.

“Ons het moeg geraak vir die toestand van die dorp en het besluit om self in te spring en iets te doen. Ons is trots op ons dorp en het besef as ons dit nie self gaan doen nie, gaan niemand dit doen nie,” sê Coenraad Kriek, voorsitter van AfriForum se Christiana-buurtwag.

Die Christiana-tak staar talle uitdagings en probleme in die gesig, maar die taklede gaan saamstaan en die probleme een vir een aanpak om sodoende teen die agteruitgang te baklei.

Buiten hierdie skoonmaakaksies het die tak ook ’n uiters suksesvolle en aktiewe buurtwag wat gereeld patrollies ry.

“Ons nooi die inwoners van Christiana uit om deel van die plaaslike tak te word om sodoende ’n positiewe verskil in die gemeenskap te maak,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Soortgelyke plasings